Die kunstenaar en die kunstefees

"Societies never know it, but the war of an artist with his society is a lover's war, and he does, at his best, what lovers do, which is to reveal the beloved to himself and, with that revelation, to make freedom real." (James Baldwin)

Is jy ook ‘n kunstenaar? Dan sal jy dalk van my frustrasies of bekommernisse kan verstaan wat ek nou hier gaan aanspreek, of aan die groot klok wil hang. Sit jou denkgordel aan, hier gaan ons.
Dit maak nie saak in watter genre jy jou uitdruk nie, die kunste is ‘n heerlike, opwindende, kleurvolle maar uiters komplekse arena (vir die skeppers én die gehoor of toeskouers). As ‘n skepper of kunstenaar of vervaardiger, kan mens somtyds voel, veral op daardie dae wanneer daar nie ‘n Disprin naby is nie, of jy dit nog nie gedrink het nie, asof die wêreld (en sommer al moeilike mense daarin) vir wie jy nou eintlik jou kuns maak, jou vyand geraak het.
Natuurlik moet ek ook net hier by die stelling-in-neem-posisie verklaar dat dit vir my somtyds voel asof die kunste in Suid-Afrika net vir ‘n handjie vol ryk mense aanvaarbaar is en hierdie eensydige perspektief kan dalk op die fondamente van my “bittere” ervarings staan.

Ongelukkig word die kunste nie met balle en rakette bedryf nie, so ons weet dit is ‘n skynbare nismark vir ‘n uitgelese minderheid, maar is dit egter heeltemal korrek?
Die dag wanneer jy emosioneel inkonk en jy word vir ‘n wyle na ‘n psigiatriese inrigting gestuur, dan word die kunste ewe skielik aanvaarbare modaliteite, want dan wil hul jou diepe onrus op papier sien en jy moet jouself kan uitdruk – al het jy geen ervaring op die kunsteterrein nie. Dan is kunsterapie en al die ander verwante “trawante” baie belangrik. Ek dink ek sal liewer hierdie saak net eers hier moet laat staan. Dit is ‘n pennestryd vir ‘n ander dag. Jy lees nou die passie van ‘n kunsonderwyser hier raak, gun my die voorreg om bietjie stoom af te blaas.

Die werklikheid is egter dat kuns of die kunste oral is. Wie wil nou lelike skoene dra, in ‘n swak ontwerpte huis bly, ‘n aaklige trouring dra, die kar ry wat niemand begeer nie (?) en die lys is natuurlik nimmereindigend. Natuurlik leef ons nou in ‘n tyd waarin alles onmiddellik visueel beskikbaar op ons selfone is en die mensdom se oë kan nie genoeg kry van kyk nie. Ongelukkig, en dit is nou my eie hooflettermening, bring die konstante stroom van visuele stimuli oorversading mee. Ek as kunstenaar, kan eintlik glad nie meer iets oorspronklik skep of uitdink nie, want daar bestaan al reeds ‘n variant van wat ek ook al aan die toeskouer wil voorhou, iewers op ‘n webtuiste of die internet, wat omtrent presies soos my “unieke” skepping sal kan lyk.
Die punt wat ek wil maak klink baie soos Salomo wat sê, “Daar is niks nuuts onder die son nie.” Hou hierdie gedagte in jou agterkop, dat ons almal, maak nie saak in watter genre of beroep jy jou kordaat wil hou nie, glad nie meer onder die unieke vaandel eintlik kan staan nie. Die wonder van die menslike psige is dat ons tog, ten spyte van ons beperkte toestand, durf of probeer om ons God-gegewe bydrae te maak terwyl KI ons in die gesig staar en ons vaal en vervelig mag laat voorkom vir onsself en dalk ook vir die publiek wat ons werk kom beoordeel of besigtig.

Nou gaan ek by die beweegrede vir hierdie skrywe uitkom. Ek sit nou my vriendelike skrywershoedjie op my kop en my soet vingertjies gaan nou met heuningkwaswoorde probeer om aan iets gestalte te gee waaroor ek al lankal ‘n paar stuiwers in die armbeurs wou gooi, naamlik kunstenaars en hul ervarings by kunstefeeste. Natuurlik is dit nou my eie ervarings waaroor ek gaan praat.
Ek dink ek moet net eers nog ‘n erkentenis aflê: Ek is nie ‘n robot nie en ek skryf hier as ‘n mens (en kunstebewaker) wat nog sy reis op aarde moet voltooi. Die voorafgaande belydenis wat ek nou hier op die tafel neergesit het, is bloot om te erken dat ek natuurlik menslike krake het (wat natuurlik vir ander buite my eie kop uiters sigbaar sal wees) en dat ek dinge verwronge verstaan vanuit my eiesoortige en komplekse menswees. As jy dalk voel dat ek op jou tone trap tydens hierdie diskoers van my, onthou dan, dat ek reeds om verskoning gevra het met hierdie verklaring wat ek hier met my geraamte op jou yskas geplak het.

Jy wil gaan uitstal by ‘n kunstefees. Wat behels dit? Wel, vir my as visuele kunstenaar sal dit ‘n paar dinge nader roep, o.a, ‘n deposito van ten minste R350 wat ek moet betaal voor keuring kan plaasvind, ‘n ellelange aansoekvorm wat ek sal moet invul met foto’s van my kunswerke en skakels na my sosiale kanale wat ek sal moet of kan aanheg, ten minste R5 000 wat ek sal moet betaal vir 5 dae se uitstal, ‘n stellasie (en gepaardgaande infrastruktuur) wat ek sal moet saamry en opslaan waarteen ek my kunswerke sal kan hang, vertoonbare of selfs geraamde kunswerke, versierings en meubels vir die stalletjie, akkommodasie van ten minste R3 000, brandstof- en kosgeld en dan nog ‘n lang lysie dingetjies soos plakkers vir pryse ens. So ‘n uitstappie kan maklik R20 000 beloop. (En dan loop die mense heerlik neus-optrekkerig verby en dink dalk as hulle na jou werk kyk, ag dis maklik, ek kan dit ook doen, of dalk die mannetjie is darem lekker windmakerig om te dink hy gaan hierdie goed verkoop kry ten hierdie buitensporige pryse. Maar meer oor Jan en San Publiek later.)
Ons leef nou in tyd wat vir ons almal vreemd mag voel en dit is niemand se skuld nie, maar kom ons maak KI die sondebok vir die oomblik, want dan hang ons darem die gedagtes aan dieselfde kapstok. As jy nie deesdae vir iemand ‘n video stuur nie, glo hulle jou amper nie meer nie; sosiale media is nou die medium van kommunikasie. Hierdie gesogte realiteit beteken dat ons ook mekaar sal moet begin betaal in hierdie “denkeenheid”.

Ek as visuele kunstenaar wat 500km plus (in my geval) moet ry om by enige kunstefees in Suid-Afrika te gaan uitstal, het ook ‘n behoefte daaraan om in die sosiale media-kanale wat verbind is aan die betrokke kunstefees, vermelding of erkenning te kry vir my teenwoordigheid en my leeueaandeel om die fees 'n kunstefees te maak.
Hoe is dit dan, dat tientalle kunstenaars (in verskeie genres) elk omtrent R20 000 elke kunstefees spandeer om ‘n kunstefees vir die organiseerders te help bou en glad nie erken word in enige video of in die gedrukte media nie? Hoekom verskyn daar nie na so ‘n kunstefees ‘n kort en kragtige video waarin al die kunstenaars en kunsvlyters (wat instem) wat uitgestal het by so ‘n fees, vinnig kan verskyn nie? Hierdie video kan vir elke kunstenaar en selfdoener soveel beteken vir die bemarking van hul werk of produkte. Daar is natuurlik verskeie opinies oor hierdie saak, maar ek dink dat om teenwoordig te wees in die digitale stroom waaraan ons almal voortdurend blootgestel is, glad nie ‘n slegte idee is nie – tensy jy doelbewus op jou eie planeet wil bly.
‘n Paar feeste gebeur jaarliks naby universiteite en kolleges. Ek as onderwyser weet dat vakansietye ontspantyd vir vele skoliere en studente is. Daar is egter studente en skoliere wat hiperaktief is en vir wie vakansies te min opwinding inhou, so waarom span ons hulle nie in om onderhoude en opnames en kort video’s te maak van die kunstenaar-uitstallers nie? Hulle maak die video’s gratis, laai dit op hulle kanale en sodoende vul hul ook hul kykersgetalle aan? Ek dink universiteite en dosente kan meer munt slaan uit hierdie feeste wat op hul kampusse gebeur. Ek kan verstaan dat organiseerders nie nog met hierdie sosiale-media-las wil opgesaal wees nie, maar omtrent elke tiener met ‘n slimfoon kan nou vir jou ‘n video binne minute maak. Dalk kan die visuele kunste, letterkunde en media fakulteite hierdie aktiwiteite deelmaak van hul studente se werkstukke?

As ‘n Suid-Afrikaanse kunstenaar grief dit my effe dat menige kunstefeeste “pop-up” inkopiesentrums raak waar die kunste – wat die siel van die volk moet voed – moet kompeteer met produkte wat op gewone winkelrakke kan pryk. Hierdie is ‘n komplekse realiteit wat ek self nie mooi verstaan nie, maar vir handgemaak of selfgebottel sê ek hardop, JA! Ek dink ons moet hieraan aandag skenk. Wil ons ‘n negosiemark skep of moet die klem op die kunste (verkieslik) bly? Natuurlik sal die feesorganiseerders soveel uitstallers as moontlik wil aanvaar en toelaat, want dit bring ten minste R5 000 per enkelstalletjie en R10 000 per dubbelstalletjie in.

My luidkeelse voorstel is dat enige kunstenaar wat pa of ma staan vir die kultureel-waardevolle produk wat gelewer word, in sy of haar gekose genre, eintlik gratis moet kan uitstal – onderhewig aan sekere voorwaardes and standaarde natuurlik. Hoekom? Want die kunstenaars dien die kreatiewe ekonomie van die land en bevorder kunstebewustheid. Ek weet dat hierdie gedagte nou seker heeltemal “mal” mag klink. Dit kom natuurlik uit die kopkanale van iemand wat al heerlik deur die finansiële fiasko’s gemaal is, tot sy eie nadeel. Dit is moeilik om jou rol as “kulturele geneser” (Julia Cameron se begrip) te speel as jy ten minste R20 000 moet verkoop by ‘n fees om hoegenaamd dit enigsins die moeite werd te maak. Sonder regte egte kunstenaars wat hul hartsprodukte aanbied, is dit nie meer ‘n regte egte kunstefees nie, want dan word dit ‘n blote mark.
Dan is daar nog ietsie wat ek wil aanroer, voor ek verder gaan spit in hierdie akker van my “onsteltenis” en mag dit soos musiek in jou ore wees. Stel jou voor, jy is nou ek. Ek sit daar by my stalletjie met my kunswerke, maar daar is geen musikante wat met tasbare instrumente musiek maak nie. Waar is die musiekstudente? Waar is die mense wat kan besiel met hulle talent? Elke saal en tent moet volgens my ten minste vir een uur per dag vir sangers en musiekmakers met instrumente wat ons kan sien, ‘n geleentheid kan bied om die uitstallers en besoekers gratis te kom vermaak. Onthou, net soos ek wat my skilderye vir die wêreld wil wys, is daar baie musikante wat ook graag hul musiek wil bemark.

Hoekom dan die geruislose afwesigheid van musiekmakers? Ek praat nou glad nie van die oordonderde doef-doef musiek wat voortdurend uit die biertent alles oorrompel nie. Ek wil iemand sien wat op sy viool of trekklavier die mense kan meevoer vir ‘n oomblik of twee; kan iemand hulle asseblief gaan roep. Die doodse stilte wat so in die kunstefeeste se tente en sale rondhang maak my bang en dit laat my glo dat alle musikante al die land uit is en net vir president Trump in die Withuis se nuwe balsaal gaan speel.
Nou kom ek by Jan en San Publiek. Wat wil ek vir julle vertel? Ek wil net vir Jan en San Publiek, onder wie daar ywerige en lojale kunsondersteuners is, wat nou al vir jare die kunstefeeste bywoon, dankie sê dat hulle die fakkel vir die kunste help brandend hou. As ‘n mens uitstal word jy blootgestel aan die publiek op ‘n interessanter wyse as in die normale gang van sake. Partykeer ontmoet jy ‘n Jan of ‘n San en jy kan sien daar is o.a. moeite gedoen met die uitrusting wat gedra word – dit is asof hulle werklik deel is van die kunste – en jy ervaar ‘n hartlikheid by die persoon, want agter daardie kunstige voorkoms (wat met ‘n geveerde hoed afgerond kan wees) skuil daar dan ook ‘n kunstenaar sal jy uitvind, as jy die moeite doen om te vra. Hulle wys dan ook graag vir jou hulle kuns wat iewers op hulle slimfone skuil. Geselsies met hierdie kunskamerade laat altyd my geluksmetertjie se lesing styg.

Dan is daar die ander Jan en San. Hulle is vir die kunste baie bang en hulle kan bedreigd voorkom. Heel moontlik het hulle al deurgeloop toe ‘n kunsverkoper hulle byna mal gehad het in sy of haar poging om ‘n skildery of dalk ‘n Persiese mat aan hulle af te smeer. Ek verstaan hulle weerstand. Hierdie paartjie sal verby jou stalletjie loop en letterlik te bang wees om in te gaan en te gesels. Hulle is nog steeds onder die indruk dat alle kunstenaars wat daar uitstal, ten koste van alle ordentlikheid, net wil geld maak, wat in ‘n mate ook waar kan wees. Hulle weet egter nie dat die “armsalige” kunsverkoper nou al heeldag so verveeld en eensaam daar sit nie en dat hy ook al lankal smag na ‘n gesprek nie.

Elke gesoute kunstenaar-uitstaller weet dat ‘n skildery sy eie baas sal kies. Ons weet nie almal hou van kuns nie, ons aanvaar nie almal kan kuns koop nie en nie alle kuns is ook noodwendig net peperduur nie. Jan of San móét eers met opgewonde oortuiging self daarvan hou, voordat daar van ‘n moontlike kopie enigsins sprake kan wees.
Ek wil so baie dinge kwytraak en dalk mag ek net later spytraak. Ek dink dat die kunstefeesmodel soos ons dit geken het in Suid-Afrika tot ‘n mate uitgedien is en hersien moet word. Daar moet met nuwe oë daarna gekyk word. Kunstenaars kan nie voortgaan om astronomiese bedrae te betaal en daar is geen kunskopers nie. (Ek verstaan die ekonomie knyp …) Die groot gedagte is: ons as mense soek almal na ervarings, want die gewone lewe word nou met sosiale media gerugsteun of “verbeter” – of ons dit nou wil hê of nie – kunstenaars en kunstefeesorganiseerders sal moet aanpas by ‘n nuwe realiteit wat dalk makliker en goedkoper aspekte ook kan omhels?

Dan, is daar ‘n laaste gedagte wat rein uit my onderwysershart borrel: Wat doen ons om die volgende generasie skeppers, kunsteondersteuners en kopers te stimuleer? Die ouer garde wat die kunste ondersteun het, word nou ouer en hulle verdwyn. Hoe gaan ons ruimte maak vir ‘n generasie wat dalk ander kunsvorms verkies? Ek verwys nou na jongmense vir wie die statiese kunste (soos ‘n skildery of skets of beeld) dalk nie so aanloklik lyk as dit gemeet word aan die flitsende en bewegende prentjies op hulle slimfone nie. Opkomende jong kunstenaars en studente kan nie die huidige uitstalfooie bekostig nie, hoe kan ons dit goedkoper maak om hulle talent en werk te bemark? Wat daarvan as daar byvoorbeeld ‘n 1m x 1m spasie gratis beskikbaar gestel word vir die eerste 20 aansoekers onder 25? Hierdie saak het vele mense met die “dik brille” nodig om ‘n gesonder model saam te stel.
Ek dink ek gaan nou eers my eie leesbril afhaal waarmee ek my tikwerk moet doen en dan hierdie briefie aan alle oop kunsteharte pos. Ek glo dat ons hier tussen ons die antwoorde gaan kry op van die vrae wat ek in hierdie dokument dalk aangeroer het. As jy 'n idee of twee het, laat hoor van jou.

…Only art penetrates what pride, passion, intelligence and habit erect on all sides – the seeming realities of this world. There is another reality, the genuine one, which we lose sight of. This other reality is always sending us hints, which without art, we can’t receive. Proust calls these hints our “true impressions.” The true impressions, our persistent intuitions, will, without art, be hidden from us and we will be left with nothing but a ‘terminology for practical ends’ which we falsely call life. (Saul Bellow, oor wetenskap en kuns uit sy Nobel lesing in 1976.)




'n Lang skryfstuk, maar beslis jou tyd werd.
Nie net hartseer realiteite waaroor 'n mens kan dink nie, maar ook insig in die kunstenaar in ons soms wrede en woeste tyd. 'n Tyd waar daar verby ander geleef en gekyk word.
Dan kry jy hordes wat soos hoenders agter die een met die pers kol, aanhol. Ek kan aan twee dink. Hoe almal, dis nou die effe minder gekunsteldes, ( as ek dit mag waag?) met kleiner maar tog voldoende beursies, graag spog " Ek het ook 'n @" Out of Tjie, dis ongelowig.
By the way..ek stem 100% vir daardie gratis uitstalruimte, of dan sê R500 vir die 5 dae om die twak uit te hou.