VZR 2de Kunsteweek - 2026

Terugblik op die 2de Vanzylsrus Kunsteweek

Bridge Co-Creators het die voorreg gehad om die Vanzylsrus Kunsteweek vir die tweede keer te organiseer en aan te bied in 2026. Die idee om ‘n kunsteweek in die Kalahari aan te bied, het by my, Pieter Pienaar, onstaan. Ek is ‘n boorling van die Kalahari, maar het vir omtrent drie dekades elders gewerk. My passie vir die kunste spruit uit my persoonlike reis as kunstenaar, die 25 jaar wat ek plaaslik en internasionaal ‘n kunsonderwyser was en my doktorale studie wat gefokus het op die moontlikhede vir self-ontdekking (en self-ontwikkeling) wat kunstebeofening in groepsverband kan fasiliteer.

Soos alle ander passievolle kunstenaars, glo ek dat die kunste (ek verwys nou alle genres) noodsaaklik is vir persoonlike balans, algemene estetika en dat dit moeilike persoonlike uitdagings tydelik kan versag – natuurlik is dit nie die kuur der kure nie, maar dit is dalk ten minste, ‘n goedkoper alternatief vir dié wat dit “pleeg”. In Suid-Afrika en ook internasionaal word die kunste uit die meeste staatsskole se leerplanne verwyder omdat dit skynbaar ondergeskik is aan die wetenskappe en hierdie tendens duur nou al amper vir meer as vier dekades voort.

Die resultaat van hierdie eng institusionele uitkyk lei daartoe dat die skoolgaande jeug ‘n gebrekkige kunsteblootstelling ervaar en dit kan dan tot ‘n moontlike onvermoë in die volwasse publiek lei om die kunste na waarde te skat en dit is nou my beskeie mening. Musiek wat tot laatnag in biertente tydens kunstefeeste raas, is omtrent die “enigste” kunsvorm wat volgens my nog voldoende aandag kan trek of waarvan mense notisie mag neem en dit is natuurlik ‘n stelling met ‘n tong in die kies. Dat die publiek effe apaties staan teenoor sekere kunstevorme, is te verstane, maar dit is beslis ‘n realiteit of feit waarvan kunstefees- of kunsteweekorganiseerders bewus moet wees.

Hierdie jaar het ons probeer om nuwe gratis aktiwiteite by die kunsteweekrooster te voeg, soos bv. die groet-die-son-sessie en die mense wat van ver gekom het was mal daaroor. Daar is baie foto's geneem en dit was 'n heerlike leer-ken-mekaar-sessie.

Bridge Co-Creators het in 2025 met die Site_Specific Collective saamgewerk om Afrika se grootste kliplyn-tekening digby Vanzylsrus te skep en dié landmerk, die aasvoëlgeoglief, is in Mei 2026 voltooi. Tydens die skep van hierdie landmerk, het ek die rol van projekbestuurder ingeneem, omdat ek van die omgewing was. Tydens hierdie klipversameltaak, het ek ‘n paar onverwagse en minder positiewe lesse moes leer, maar noudat die geoglief klaar is, is alles vergete. Die mesmaakklas wat vir die eerste keer tydens die tweede VZR Kunsteweek aangebied was, was wonderlik ondersteun. Dit is natuurlik ook ‘n gesogte kunsvorm en pas in by die boerderymilieu.

Nou wat het ek geleer wat my dan so effe droewig gemaak het? Om dit kortliks op te som, kom dit daarop neer dat die platteland en die hele land kreatiewe inspuitings benodig (en dalk moontlik begeer) om byvoorbeeld landmerke te skep of die omgewing te verfraai sodat die kreatiewe ekonomie van ‘n streek of dorp tot die voordeel van almal gestimuleer kan word. Daar was wonderlike weldoeners wat my en die Site_Specific Collective se taak vergemaklik het, maar waarmee ek gesukkel het, was dalk my eie onvermoë om die waarde van hierdie kunswerk aan hulle te verduidelik en die resultaat was dalk dat hulle onseker was oor waarmee ons besig was.

Ek dink persoonlik, soos ek ook reeds genoem het, dat die skoolsisteem en die onsigbaarheid van die kunste in publieke landelike Suid-Afrikaanse omgewings kan bydra, tot hierdie onseker houding teenoor kunstenaars, die argitekte van mooidinge en groepe wat landelike en stedelike estetika wil bevorder. Almal wil somtyds mooi aantrek, die nuutste motor besit of ten minste bestuur en in ‘n mooi ontwerpte huis woon, maar daar is ‘n skynbare onvermoë by sekere segmente van die huidige selfoongedrewe mensdom om te weet of te wil weet dat alle mooi items of monumente of blyspele wat bestaan uitvloeisels van kreatiewe denke is en die rol van die kunste duidelik aantoon. Kan ons dit bekostig om langer in hierdie “vaalheid van verstand” rond te dwaal in ‘n land waar die mensgemaakte mooi al hoe minder sigbaar raak?

Voordat ek my verlustig in die lekker dinge van die 2026 VZR Kunsteweek, moet ek gou eers weer hier nog ‘n kantlynaantekening maak, wat handel oor my belewenis van die Kalahari. Die Kalahari sukkel maar om my kunstenaarshart heeltemal te verbly, want hier was nie kunstemaats vir my nie, maar danksy die kunsteweek en die nuwe kunstenaarsvriende is my Kalahari-kunstenaars-isolasie gebreek en nuwe lig kon begin skyn.

Moet asseblief nie dink dat die Kalahari as tafereel my nie geïnspireer het nie. Ek het verlede jaar my boek, Kalaharikwashale en -Sketse vrygestel waarin my 40 jaar se Kalahari-kunswerke verskyn. Die gedagte wat ek wil onderstreep is dat die eensaamheid wat ek as kunstenaar in die Kalahari ervaar het, my al lewenslank pynig, maar dit lyk darem of die pyn nou met groot kwashale toegeverf gaan word deur die stam van kunstenaars wat hier tydens die kunsteweke begin hand bysit.

Vir vier maande het ek in Pretoria beplan aan die 2026 VZR Kunsteweek. Dit was advertensies maak, video’s opneem, die druk van baniere, die geskenkies vir die aanbieders, die saamstel van die program, die voortdurende kontakmaak met instansies en borge ens. Terwyl ek aan die voorafgaande lange lys interaktiewe take gewerk het, wou ek eintlik salig onbewus wees van die feit dat iemand ‘n kunstenaarswegbreek (in Engels retreat) voor die kunsteweek voorgestel het en toe kop uit getrek het. ‘n Mens kan egter nie vir te lank jou kop soos ‘n volstruis in die sand bly begrawe nie. Ek het egter my kop uit daai spreekwoordelike gat moes wikkel en besef dat ek behalwe die kunsteweek, ook pa sal moet staan vir die weeklange kunstenaarswegbreek, want ek is die gesig van die Kalahari (vir die kunstevriende wat van ver af kom) en ek durf nie die geesdrif demp van die mense wat gretig daarna uitgesien het nie.

Ons kom so 22 September in die Kalahari aan. Ek en die kunstenaars gaan tuis in ‘n wonderlike plaashuis, op die plaas Lushof, 9km buite Vanzylsrus en daar sien ek gedeeltes van ‘n vergete droom weer vorm aanneem. Vir my persoonlik is die Kalahari-landskap nie die mooiste nie, want ek het seker in ‘n vorige lewe in ‘n woud iewers in Europa gewoon. Ek hou van ‘n diep groen, amper tropiese plante en baldadige Europese tuine met rose en standhoudende riviere, maar die Kalahari het die hemel seker vir my gestuur om my te skuur en te skaaf – en sowaar ek het my man probeer staan en met alles probeer vrede maak, maar ek weet nie of ek juis gevorder het op hierdie vis-wat-moet-boom-klim-trajek nie. Gelukkig gaan die lewe buite ons persoonlike voorkeure kleurvol te kere in die harte van die ander mense vir wie die Kalahari ‘n belewenis van stilte en inspirasie was.

Jare gelede toe ek ‘n kunsonderwyser in Pretoria was, wou ek my kunsleerlinge na ons Kalahari-plaas bring om hulle te laat teken in die natuur en ek wou hulle graag patrone op die duine laat maak, o.a., maar daar was net nooit tyd nie. Omtrent 15 jaar later sit ek by Lushof met kunstevriende uit Pretoria en Krugersdorp om ‘n braaivleisvuur en ek ervaar die Kalahari deur hulle oë en ek voel toe bietjie skuldig, maar die hemel weet toe darem al van my duisende morpraatjies wat die engeltjies so deur die jare al geboekstaaf het.

Die vreugde wat hulle ervaar – soos hulle na die Kalaharilandskap kyk met nuwe oë en ‘n ek-wil-hier-wees-houding – het my laat besef dat my vreugde regtig nie in die Kalahari lê nie, maar wel in die rol wat ek as kunstebemarker van die Kalahari moontlik kan speel. So, het die Vader tog ‘n wonderlike sin vir humor. My mor en kla word dalk die kruiwa wat die ander se vreugde kan dra? Die stilte spreek tot hulle en nou lyk dit my dat hulle ernstig op pad is om dissipels van die stilte te word; ek wil my lewe lank net van dié stilte ontslae raak.
Nou wens ek, ek kon ‘n sinvollle manier vind om die stilte van die Kalahari in boksies te verpak sodat ek dit dan aan kunstenaars kon verkoop. Dit is nou seker regtig laf van my om so te wil praat, maar ek probeer slegs die potensiaal onderstreep wat ek toe raaksien vir kunstenaars, soos ek toe ook met my eie kunstenaarsoë vars probeer kyk na hoe hulle die Kalaharilandskap belewe.

Tydens ons retreat by Lushof speel die musikante onder ons afsonderlik hul instrumente en die ander neurie of sing saam. Ons trek die nuwe FAK sangbundel nader en die musiek kalmeer my. Die vorige vier maande se stresvolle gewerskaf aan die kunsteweekprogram vervaag en ek rus terwyl en sien hoe my maats teken en foto’s neem. So tussen alles deur kry ek die laaste kunsteweekpresentjies en dingetjies reg en iemand gaan help my om die baniere in die dorpie op te sit.

Kom ek verskuif die fokus nou na die kunsteweek. Kunstenaars (in alle genres) is somtyds berug daarvoor dat hulle nie juis mededeelsaam is of wil saamspeel of wil saamwerk nie, want elkeen het sy of haar eie styl ens. Dit was egter nie my ervaring van my kunstenaarsvriende nie. Ek dink ek sal ‘n bossie blomme na die hemelse kantore moet stuur, as ek maar net kon, want die tweede Vanzylsrus kunsteweek se sprankel is gebou op die mededeelsaamheid en positiewe bydraes wat my dierbare kunstevriende, wat as aanbieders opgetree het, gelewer het.

Ek skryf nou al vir ‘n paar dae aan hierdie posstuk en ek dink ek gaan nou, ter wille van my eie welstand, nie elke aktiwiteit in detail bespreek nie. Ek het video’s gemaak oor elke aspek van die kunsteweek, na die beste van my vermoë en ek sal al die skakels onderaan hierdie posstuk heg. Met hierdie posstuk wil ek eintlik aspekte aanspreek waarvan die meeste mense dalk nie bewus mag wees nie en ek wil ook my indrukke vasvang tot my eie en ander se toekomstige voordeel. Ek verstaan dat hierdie perspektiewe van my subjektief is, maar ek dink somtyds is dit ook nodig om jouself te hoor en dalk dinge ook vir ander duideliker te maak.
Ek gaan vinnig so ‘n paar punte noem waaroor ek nie paragrawe wil skryf nie:
· Hoe meer buite-persone jy vergader hoe groter en interessanter raak die kunstesirkel, maar hoe meer raak jy bewus (as organiseerder) van jou eie onvermoë om almal voortdurend “volledig” gewaardeerd te laat voel.
· Die kunsteweek is ‘n wonderlike geleentheid vir die ouer persoon om heerlik te kuier.
· Kunstenaars wat kom klasse aanbied moet ver ry om hier te wees en dit breek my hart as hulle klasse nie vol klaslopers is nie. Die koste van hul brandstof en behuising sou mens met borge kon halveer, indien dit enigsins moontlik sou wees.
· Hier en daar het ‘n kunstenaar wat ek genader het om deel te neem aan hierdie kunsteweekpogings kop uit getrek en ek kon toe agterkom dat die Kalahari en die vlaktes effe benede hulle was, maar elkeen van ons weet waarvoor ons ja of nee wil sê.
· Elzette Boucher-Krüger, wat vir die Landbouweekblad werk, het na afloop van die kunsteweek met my ‘n video-onderhou gevoer by die Vanzylsrus Hotel en toe het sy iets interessants gesê wat daarop neerkom dat wat ek as ‘n kunsteweek bestempel, ook eintlik ‘n kunstekliniek is. Dit was vir my ‘n vars perspektief waaraan ek nooit self sou gedink het nie. Ek sal dit egter huiwerig in die gedrukte media wou gebruik want die mediese raad mag my dalk van aanstellerigheid beskuldig en hul gesante stuur.
· Dit is wonderlik as ander deelnemers video’s maak, want dan is jy as organiseerder buite die prentjie en die video is “neutraal”. Ek het video’s gemaak van elke faset van die kunsteweek, maar dit bly gegrond op my foto’s en my seining. Ek maak die video’s doelbewus vir bemarkingsdoeleindes vir alle partye betrokke en ook om as bewyse te dien dat dinge regtig plaasgevind het – sou iemand daarvoor vra.

Nou wil ek gou eers weer hier ietsie anders aanraak en dit mag dalk vir jou klink asof ek nou na ‘n ander planeet gaan reis, maar dit is nie heeltemal so vreemd soos dit aanvanklik mag klink nie. Ek gaan nou na dinge kyk vanuit my opvoedersperspektief en ook deur die bril van die kreatiewe ekonomie, soos ek dit verstaan.

Een van die hartseeraspekte van die Noord-Kaap is die uitsigloosheid wat baie jongmense in die gesig staar wat opleiding, werksgeleenthede en werkskepping betref. Die Noord-Kaap is ‘n uitgestrekte gebied en dwelmverslawing onder die Noord-Kaapse jeug kan amper nie meer gestuit word nie, het ek op die radio verneem so drie jaar gelede toe ek na ‘n gesant van Kimberley luister wat gemoeid is met hierdie negatiewe realiteit. Ek gaan nou nie op drank- of dwelmmisbruik konsentreer nie, maar wel op wat ek dink moontlik kan werk in die uitgestrekte gebied – en ek dink ek mag hiervan melding maak, want ek het al genoeg ure in hierdie gebied deurgebring en ek het vir vier jaar in dié omte tot onlangs skoolgehou.

Nou wil ek vertel van ‘n “droom” wat ek het en wat ek al vir ‘n paar mense van vertel het so oor die afgelope twee jaar. Hier en daar het iemand my so half skepties aangehoor, maar hulle het ook seker nie my besorgheid as onderwyser verstaan nie, wat ek ook ruimte voor kan maak. Hou asseblief die groot afstande wat mense moet ry in gedagte. Dit is moeilik vir armer skoolverlaters in die platteland om by opleidingsentra te kom. Toe dink ek: Wat daarvan as ons die opleidingsfasiliteite na hulle bring? I.p.v. daarvan dat ons lang kursusse aanbied, rig ons ‘n tydelike kollege op vir ‘n maand se intensiewe opleiding? Die jongeling word byvoorbeeld opgelei in basiese kooktegnieke of gastehuisonderhoud en kry ‘n sertifikaat wat deur ‘n gerekende instansie uitgereik word. Met hierdie kwalifikasie, staan die verdienstelike jongeling, glo ek, dan ‘n beter kans om iewers ‘n vastrapplekkie in die werkersmark te kry. Ek weet daar is baie aspekte van my idee wat moet aandag kry, maar ek dink my raamwerk is verstaanbaar. En so vergeet ek toe vir ‘n wyle self van my eie opleidingsidee.

My idee word weer wakker gemaak toe Dr. Dylan Troy Stevens, tydens on tweede kunsteweek, sy kookwerk begin doen. Lang storie kort, Dr. Stevens kook vir ons ‘n Marokkaanse ete en wat gebeur toe? Hy lei toe sommer terwyl hy vir twee dae voorberei aan hierdie feesmaal die kokke by die plaaslike hotel op. Ewe skielik besef ek weer net opnuut dat daar wel ‘n mate van waarheid in my plan mag steek. Ons kan vir sommige van die Noord-Kaapse jongelinge dalk verligting bring met kort gerigte opleidingsentra. Mens moet ook net onthou dat vir moontlike dosente en kursusleiers, kort gerigte klasgeeperiodes ook beter kan werk. Professionele mense sien nie kans om hulself in die Noord-Kaap te vestig nie, maar vir ‘n maand of twee sal hulle wel die opoffering kan of wil maak. In die Kalahari of in die platteland is daar vele groot plaashuise of kerksale of gemeenskapsale wat omtrent die hele jaar leeg staan. Die infrastruktuur mag dalk nie van die beste wees nie, maar ek dink nie dat ‘n gebrek aan fasiliteite in die pad na vooruitgang behoort te staan nie.

Nou mag jy dalk vir my vra, hoe bring jy die kloutjie by die oortjie? Wat is die verband tussen die kunsteweek en die opleiding van die Noord-Kaapse jeug? Die kunsteweke is kort gerigte uitreike of “klinieke” en hierdie model mag dalk net ‘n organisasie inspireer om dalk ‘n tydelike kollege iewers oop te maak om die jeug te leer te leer kook, vleis verwerk, sweis, sing, ens. en so kan die vaardighede uitgebrei word. Jy mag dalk vra, waar dink jy gaan ons die dosente of aanbieders kry? Onthou daar is universiteite (plaaslik en internasionaal) wat van hul studente ‘n verpligte gemeenskapkomponent vereis. Sou ons van hierdie studente in die hande kon kry om tydelik hier in die harde Kalahari te kom bly om hulle gemeenskapsdiensure te doen, dan mag dit dalk net die knoop deurhaak? Ek dink regtig dat die isolasie en die weerloosheid van 'n segment van die Noord-Kaapse jeug aangespreek kan word deur tydelike opleidingsentra.

Jammer dat ek so ‘n effe die ruimte in was met die vorige paragrawe, maar die hopeloosheid wat ek bespied as ek so oorkoepelend na die Noord-Kaapse jeug kyk, is iets wat my hart onsteld stem en as kunstenaar, glo ek, wil ons tog die mooi van die lewe vir almal op aarde laat gun.
Nou gaan ek my bepaal by die wonderlike aanbieders en persoonlikhede wat die tweede VZR Kunsteweek ‘n fees gemaak het. Hoe kan ‘n mens lewe in ‘n wêreld sonder kunstevriende? Ek gaan sommer begin deur van my kunstenaaraanbieders en deelnemers aan te haal.

Magriet Fourie (kunstenaar, motiveringspreker en deelnemer): Hierdie jaar se kunstefees het die eerste een ver oortref. Die atmosfeer, die aanbieders en mede-klaslopers het die hele ondervinding onvergeetlik gemaak. Ons het die een aand op 'n duin saam met Ronél Pickles ontspan en ek dink die hoogtepunt vir my, was die verskeidenheidskonsert waar ons saam kon optree o.l.v Lizette Vosloo en ons kon ons verlustig in Christiaan Snyman se operastem.

Christiaan Snyman (kleibeeldhou-aanbieder en operasanger): Wat ‘n wonderlike ervaring om in die Kalahari en by sy vriendelike mense te kuier. Ek is baie lief vir die natuur, en het die kameeldoringbome en rooi duine met pragtige sonsondergange vreeslik geniet. Dit is nogal 'n plek waar mens kan rus, want daar is nie heeltyd distractions nie. Dit was goed om mense van die omgewing te leer ken en te sien dat talent nie gebonde is aan ‘n stad of plek nie. Almal het iets om te gee. Die Kalahari-studente was kreatief en opgewonde om te kan skep. Dit was ook ‘n goeie ervaring om by boere te kon kuier en die dorperhanslammers met die bottel te kon voer.

Marlene Slabbert (onderwyseres en gasvryheidsbestuurder tydens die kunsteweek): Ek het my kunsteweek in Vanzylsrus baie geniet! Die program was interessant en leersaam en is deur kenners op hul gebied aangebied! Die mense was vriendelik, behulpsaam en baie gasvry!

Louis Krüger (fotografiedosent van die Universiteit van die Vrystaat): Inisiatiewe soos die Vanzylsrus kunsteweek is broodnodig in klein gemeenskappe. Die hongerte na kreatiewe uitdrukking was tasbaar in die vertrekke waar werkswinkels aangebied was. Die groep deelnemers, fasiliteerders, kunstenaars en sprekers het teen die einde van die week soos ‘n familie begin voel. Dit was inspirerend om te sien hoe die sielvoedende waarde van kreatiwiteit gevier was. Mag die kunsteweek net van krag tot krag beweeg.

Ronél Pickels (kunstenaar van Botswana wat die gemengde media-klas aangebied het): Ek as aanbieder, sou graag ook van die ander werkswinkels wou bywoon, veral die gedigte en storievertellings. Andersins was dit baie opwindend om saam met soveel kunstenaars te wees vir 'n paar dae. Die wedersydse inspirasie was hoog. Ek voel al was ons min was dit steeds 'n sukses … 'n Langer tydperk kan tyd gee vir aand programme soos 'n musiekaand, fotografievertonings met foto’s van die klas, uitstalling van skilderye met kunstenaars wat oor hulle werk praat ...
Ek gaan gou kommentaar lewer op wat Ronél voorstel. As organiseerder verstaan ek dat die aktiwiteite oorvleuel, maar ek hoop die mense kan hul fokusareas reg kies voor die tyd. Die groot rede vir die volgepakte rooster, is dat ek probeer om alles in twee en ‘n halwe dag klaar te maak, sodat die verblyf by die hotel en gastehuise die deelnemers nie te veel kos nie. Ek is seker te bekommerd oor die ander mense se geld?

Pauline Scholtz (deelnemer): Wát n tyd om te onthou. Gróót om te onthou, dié 3 dae by Vanzylsrus se 2de Kunstefees. Vir my, as buitestaander (komende van Stella) om dié voorreg te kon had om sommer net so te kon ingeval het en deel te kon wees van die kunsteweek. A ball of a time, let me tell you. Daar was baie kanse om talente ten toon te stel en ook om ons Godgegewe talente te kon slyp. Dit was heerlik en sielsverrykend.

Die onderswysstelsels met die fokus op die meer “betekenisvolle” dissiplines, het die moontlikhede vir self-ontdekkings deur die kunstevorme verklein. Musiek, kuns, drama en al die verwante kunstevorme – al daardie pragtige dinge waaraan ons behoefte het as die lewe seermaak – is iewers toegesluit en net sekere begaafde individue mag skynbaar hul voorregte geniet. Het jy al ooit van ‘n volwassene gehoor wat vir jou sê: Ek is nou so gespanne ek wil Wiskundeklasse gaan neem? Natuurlik nie. Jy sal hoor: Ek wil leer hoe om kitaar te speel, ek wil ‘n skryfskool gaan doen en ek wou nog altyd waterverflesse gaan doen.

Nou ja, dit is jammer dat dit (volgens my) deesdae die realiteit van meeste mense is wat deur staatsbeheerde onderwysstelsels is. Kan jy jou voorstel hoeveel “gesonder” mense hier sou wees as hulle kon geleer het om hulself op skool uit te druk in die medium van hul keuse? Ek weet, ek skilder ‘n hier ‘n vreeslike geromantiseerde beeld van die toepassing van die kunste in die gewone lewe, maar daar mag dalk ‘n greintjie waarheid ook in my redenasie steek.

Dankie vir die tyd wat jy geneem het om die dokument te lees en ek weet van my stellings mag dalk vergesog klink en om alles te kroon het ek en my kunsteweekspan, sowaar in die Kalahari van alle plekke, kunsteklasse aangebied. Niemand kan egter nou sê dat Bridge Co-Creators en sy kunstevriende nie probeer het om saadjies van kleur, woord en musiek in die Suid-Afrikaanse platteland te probeer plant nie - help ons om die plantjies wat gaan opkom water te gee.
Dan mag ek nie versuim om al die borge en aanbieders vir 'n laaste maal hartelik te bedank nie. Sien jou naam of logo op die banier en loop oor van plesier. Ek waardeer elkeen se besonderse aandeel en vriendskap.

Videoskakels, sou jy meer wou sien.
2025:
2026:




Comments