top of page
Search

Ai, ai, ai ...

  • Writer: Pieter A. Pienaar
    Pieter A. Pienaar
  • 2 days ago
  • 5 min read

“Oom ‘n partytjie begin met twee mense”, dit is die wyse woorde van die jong Postmasburgse sanger, Jac Coetzee, wat op WhatsApp so drie dae gelede met my gesels. Om eerlik te wees, ek het nie gedink dat ek weer van Jac sou hoor nie, want presidente Donnie en Nettie het mos die Straat van “Verwoes” gaan blokkeer en nou is almal sonder petrol en die pryse klim net soos ‘n bloeddrukmeter. Almal se reisplanne is nou in 'n ander wentelbaan - dit was my effe "verwoeste" perspektief.


Die Postmasburgse sanger, Jac Coetzee.
Die Postmasburgse sanger, Jac Coetzee.

Ek begin beter voel, want Jac en die UFO-orkes het my verseker dat hulle voertuie se neuse nog steeds Kalahari se kant toe gaan draai. Ek het begin dink dat niemand hulle meer gaan steur aan die musiekkonsert wat ons 9 Mei, tydens die Geoglieffees, op Vanzylsrus wil aanbied nie.


Die UFO-orkes se logo.
Die UFO-orkes se logo.

Ek moet erken dat as ek rustig stil gaan sit en oor alles besin, dan was ek seker effe mallerig om dié idee van stapel te stuur. Die idee het al sowat vyf maande gelede in my breintreintjie die klowe op en af gery. Dit is vandag 17 April en ek (en my makkers) moet nou die dinge laat gebeur, maar die hoop het begin opvlam.


Ons het begin klippe versamel in Augustus 2025.
Ons het begin klippe versamel in Augustus 2025.

Nou mag jy dalk wil weet, maar waar kom jy aan hierdie instrumentale idee? Wel, ek is die “klipkonstabel” wat moes sorg dat die geoglief se min of meer 38 000 kalklippe op die terrein kom, met die hulp van die gemeenskap en Kobus Duvenhage Bouers. Ek is ‘n onderwyser wat glad nie eintlik aan grondverskuiwing of mynaktiwiteite gewoond is nie. Ek het gevoel ek gaan weer weermag toe.


‘n Klip is ‘n klip en nie ‘n hond nie, dit kom nie as jy hom roep nie, dit moet opgetel word en afgelaai word en gebreek word en geskuif word. Kom ons laat dit nou daar, want jy mag dalk dink ek kry myself jammer, jy is heeltemal korrek, ek het! Dit was egter ook my groot voorreg om iets vir die kunste, met die hulp van 'n span weldoeners, in die Noord-Kaapse platteland te kon doen.


In my eie “klipkop” besluit ek toe dat daar geen manier is dat ons 38 000 klippe gaan versorg en geen basiun daaroor gaan blaas nie. Natuurlik gaan dit nie oor my of ons "pyniging" nie, maar oor die grote geoglief wat oor ‘n nege maande periode tot stand gekom het en klaar gemaak gaan word. Dit is so ‘n enorme taak, ons sal net eenvoudig moet feesvier. Dit is hoe die dinge begin het. Ek hoop die agtergrond is nou kleurvol genoeg, want nou gaan ek die storie na die musikante se kant toe swaai.


Hier is my Facebook-plasing.
Hier is my Facebook-plasing.

Ek plaas toe op Facebook ‘n versoek dat kunstenaars (dis nou musikante en orkeste waarna ek verwys) asseblief met my in verbinding moes tree, as hulle kans sien om op ‘n Kalahari-vlakte musiek te kom maak en te sing. Daar het seker so ‘n paar mense gedink hulle het nou alles gesien, maar dit was heelaas nie laaste sien van die blikkantien nie. Mense het die boodskap begin versprei en daar het sowat ses of sewe musikale persone en orkeste gehoor gegee. Dit wys jou net, elke probleem is ‘n isolasieprobleem.


As niemand van jou mal gedagtes weet nie, kan niemand aan jou droom gestalte gee nie. As jy nou dalk iewers in jou kleine hoekie is en jy voel die mensdom het verby jou gestap, dan wil ek jou vinnig troos met ‘n wonderlike video van Barbara Sher. Kyk asseblief na hierdie video met ‘n oop gemoed en laat jou geloof in die mensdom gou regkom. Isolation is the dream-killer, not your attitude | Barbara Sher | TEDxPrague


In dié bel-en-vertel-proses het Jac Coetzee en die UFO-orkes my gekontak. Jac is nou in Bloemfontein vir sy studies en hy word ook in sy sangloopbaan ondersteun deur ‘n maatskappy het ek verstaan. Die UFO-orkes spesialiseer in feeste, hulle maak feesmusiek en hulle het so ‘n paar van daardie 60s se “speserye” in hulle musiekbenadering gestrooi en die leier, Mike, vertel my dat hierdie aasvoël op die vlakte hulle Johannesburgse verbeeldings behoorlik aangegryp het.


Hulle is bereid om met twee bakkies en hulle instrumente wat nie “op-die-plek-Eskomkrag” benodig nie, van Johannesburg af te ry. “Die hele situasie is ons kos! Ons hou van snaakse dinge en hierdie fees wil ons kom lei.” Ons kon toe ook toe vinnig die billike prys vasmaak. Dié gesprekke het so 2 maande gelede plaasgevind.


Die vinnige plakkaat wat ek saamgestel het.
Die vinnige plakkaat wat ek saamgestel het.

Tydens my laaste gesprek met Jac het ek hom meegedeel dat hy asseblief tog moet kontak maak met Mike en hoor of die UFO-lede vir hom ‘n gaatjie in hul program sal gee. Jac het my verbaas en dit toe wel gedoen. Drie dae gelede, toe my geloof in die mensdom weer herstel is met Jac en die UFO-orkes se bevestiging dat hulle steeds gaan kom, ten spyte van die Straat van “Verwoes”, toe besluit ek dat ek dadelik ‘n plakkaat moet maak om die sakie in die sement van die definitiewe te giet. Ek “steel” op Facebook iets van die UFO-orkes en Jac stuur vinnig-vinnig sy prent. Een, twee, drie en daar het die plakkaat “gevlie” en in my Facebook-pos nesgemaak.


Nou dit is nou hier waar ek “ai, ai, ai …” moet begin sê. Een van die dames wat die geoglieffees goedgesind is en die Kalahari aan die hart koester, het seker die plakkaat een kyk gee en gedink dat die UFO-mense mos van ‘n ander aarde is. Sy onthou toe die Askham- en Vanzylsrus-liedjies wat iemand vir haar gestuur het wat deur regte egte Kalahari-boorlinge gesing word; sy doen navorsing op haar eie foon. Sy kry dit toe en ek luister daarna; ek is so beïndruk met die woorde en die ritme.  Ek wonder toe wat hierdie professionele sangers ons gaan vra om hier ter plaatse te kom kitaarslaan.


Die Kalahari-tannie kry vir my ‘n naam en nommer. Ek bel. Iemand in Port Elizabeth gee antwoord. Dit is ook ‘n vriendelike tannie met Kalahari-wortels. Sy vertel my dat sy nie die vrou van die sanger is nie, maar wel die tante. Sy onderneem om vir my die nommer van haar broerskind aan te stuur. Dit is nou nag. Suid-Afrika gaan toe slaap, Woensdagaand, 15 April.


Donderdagoggend, 16 April, toe bel dié “sanger” my. Hy deel my toe vinnig mee dat hy “ai, ai, ai …” nie die talentvolle man is nie, maar dat dit wel sy broer is, wat deel is van die groep met ‘n naam soos Donderslag of Bliksemstraal en ‘n vriend, die skeppers van dié presies-gepoleerde liedjies is. My opwinding en geesdrif word getref met een of ander straal toe hy my vertel, “Hulle is glad nie sangers nie. Hierdie is alles ‘AI’-samestellings. Dit is soos daardie Jakkals-ding wat hulle onlangs opgevoer het. Hulle probeer nou hierdie ‘AI’-gegeneerde skeppings aan sangers soos Kurt Darren verkoop.” Ek wonder hoe die regte egte kunstenaars nou oor hierdie kitsskeppings moet voel?


Ek hoor toe in my brein die donderslae soos ek die onafwendbare aantog van die robotte inwag. Ai, ai, ai … die opwinding vir die Kalahari se eie sangers is toe van korte duur. Hoe gaan die musiekwêreld hierdie turksvy hanteer?


Ek bel toe die tannie wat my op die spoor van die robotte gesit het. Sy sit toe heerlik in Upington in ‘n naelsalon en daar bars ek toe haar ballon. Ons lag toe maar verslae saam en toe weet ek dat die UFO-orkes en Jac Coetzee, wat regte egte instrumente en regte stemme het, die fees moet kom lei daar op ons werklike geogliefvlakte. Ai, ai, ai … oor ‘n paar jaar mag ons dalk saam met die robotte dans. The UFO Experience VZR 09-05-2026 #shortvideo #kalahari #vanzylsrus #geoglyphopening #festival

 

 

 

 
 
 

1 Comment


Pieter A. Pienaar
Pieter A. Pienaar
2 days ago

Ek is bly dat my vriende hierdie artikel geniet. Die realiteit wil nou in fiksie verander.

Like
bottom of page