Kom ons lig ‘n koppie koffie, nie alles is “op die koffie” nie.
- Pieter A. Pienaar

- 4 hours ago
- 5 min read
Toe ek jonk was, was ek glad nie geïnteresseerd in tee of koffie nie. Ek kon nie verstaan hoekom die groot mense en die ouer mense gedurig moet ketel kook en die melk-en-suiker-ding ook doen nie. Ek was seker 42 jaar oud toe ek eintlik werklik vir die eerste maal hande geskud het met ‘n koppie koffie en die positiwiteit van kafeïen kon ervaar. Ek het in Pretoria skoolgehou en een van die ouers het ‘n koffiemasjien – daardie soort wat jy deesdae by die petrolpompkafees kry wat jou allerhande keuses gee – vir die skool geskenk. Ek kom toe agter dat as ek tydens eerste pouse ‘n koppie koffie drink, ek regtig gelukkiger voel totdat die skool uitkom.

Nou wil ek net eers gou my storie in trurat sit en teruggaan na my kinderdae. Daar was geen koffiekultuur in ons dae nie. In die Kalahari, waar ek groot geword het, was dit maar die gewone poeierkoffie in daardie geel of bruin verpakking wat jy toemaak met die plastiekdeksel, wat mildelik met sigorei meer gemaak is, wat aan ons bekend was.
In die afgelope 10 tot 15 jaar het baie mense duidelik agtergekom dat daar kapitaal in koffie is. Hoe al die verskillende koffiekafees met hul eie koffiehandelsmerke geldmaak weet ek nie. Dit gaan seker maar oor daardie drie belangrike punte waarvan die eiendomsagente ons gereeld vertel: 1. Ligging 2. Ligging en 3. Ligging.
In die laat negentigs het ek na Pretoria verhuis en toe was daar omtrent geen duur ontwerperskoffiewinkels of koffiekafees nie. Nou laat Pretoria my aan Rome dink. As jy deur die strate van Rome stap, dan is daar ‘n kerk op elke straathoek en ek kan omtrent nou dieselfde sê van Pretoria-Oos. Daar is omtrent ‘n koffiekafee op elke straathoek. Ek gaan so oor ‘n paar oomblikke weer gesels oor die “koffiekatedrale” wat ek in ander dele van die wêreld aangetref het.

In 2012 het ek ‘n pos as kunsonderwyser in Saoedi-Arabië aanvaar en dit het my fassinasie met koffie net versterk. Ek moet net gou hier ‘n vinnige blokkie ys ingooi. Ek glo nie ek is ‘n koffieverslaafde nie, maar wel sekerlik deesdae ‘n koffiesnob. Vir my is een heerlike koppie koffie per dag genoeg, want as ek meer drink, dan kan ek nie slaap nie. Nou dit is nou eers genoeg van my geite. In Saoedi-Arabië het ek kennis gemaak met Starbucks en baie ander handelsmerke en dit het vir my gevoel asof ek vir my in een of ander “koffiehemel” bevind het.

Die kunstenaar in my het wawydwakker geword elke keer as ek in ‘n koffiekafee was, want dit was omtrent die rooi tapyt wat hulle vir jou uitgerol het. Hulle het my soos ‘n koning laat voel, al moes ek self die gelag betaal. Die keurige milieus kon jou in trane laat uitbars. Alles lyk asof dit deeglik en ten duurste ontwerp is, met daardie kom-maar-in-en-sit-net-hier-koffie-aroma. Dit het vir my gevoel ek was in ‘n katedraal, ‘n “koffiekatedraal”. Hierdie “koffiekatedrale” stal dan ook die beste gebak en sjokolade uit. Wat kan ‘n mens wat ete en drinke aanbetref, nou nog begeer?
Hierdie respek vir die wonderlike koffie-besigheidsmodel is toe verder versterk toe ek vir twee jaar in China gewerk het. Daar was die Starbucks-interieure net beter en mooier, as dié wat ek in Saoedi-Arabië aangetref het. Die Amerikaanse Starbucks-koffiehandelsmerk moes die Chinese vreeslik beïndruk het, want alles word toe erg “Romeins” vir my. Die “koffiekatedrale” was op elke straathoek in die groot sentra en ek kon my nie keer nie, ek moes elkeen sien, want elkeen was dramaties anders. Ek moet erken dat my “geloof” in goeie koffie al hoe sterker begin raak het. Hoe kon ek my kuns van goeie koffie skei?

Die Starbucks-handelsmerk het my so beïndruk dat ek hulle verpakkingsmateriaal opgetel het en deel van my "Chinese" kunswerke gemaak het. Hierdie collage wat ek hier vertoon het ek in 2017 gedoen, in Wuhan, waar die Coronavirus uitgebreek het. Ek wou toe hierdie reeks van 10 collages aan Starbucks skenk, maar hulle wou nie juis met my praat nie. Hulle was eintlik vreeslik onsteld omdat ek hierdie logo van hulle durf in my kunswerk plaas, maar ek het my nie daaraan gestuur nie, want ek het nie die werke verkoop nie.
Natuurlik is daar nou een groot negatiewe punt wat groot handelsmerke seker nie aandag aan wil gee nie, maar ek sal dit dalk vir ‘n ander blogpos laat. Net in kort: Hoe voel hierdie groot handelsmerke oor daardie papierkoppies en papierboksies en bemarkingsfoefies en … en … wat ek opgetel het en gebruik het vir my kunswerke? Daardie bewyse dat jy so universeel suksesvol is, dat jy die hele aarde moes besoedel met jou sukses? (Mens sal omtrent baie kapitaal moet aanwend om daardie klinkklare bewyse van rykdom, wat nou al wat ‘n asdrom is laat oorloop en elke rivier en oseaan besoedel, te verwyder.)
Ek dink my relaas raak nou effe te “groen”, want ek wou nie praat oor besoedeling nie. Die rede hoekom ek hierdie koffie-blog vandag so tik op die Sondag, is omdat ek een spesifieke Suid-Afrikaanse koffiehandelsmerk wil bedank vir hulle bydrae, wat my my gehelp het om die Kalahari kunstepoging met aroma te kon uitvoer.

Omtrent 10 maande gelede sit ek in my meenthuisie in Pretoria-Oos en ek werk aan die beplanning vir die eerste Vanzylsrus Kunsteweek in 2025. Ek het geen ondervinding van “bedel” by die groot maatskappye nie, maar my eie idee druk my toe vas. Daar moet net eenvoudig goeie koffie (nie poeierkoffie nie) geniet word tydens ons kunsteweek, want goeie koffie en kuns hou handjies vas; my “koffie-geloof”. Die internet maak dinge mos makliker en ek rig borgskapversoeke aan omtrent 30 koffiemaatskappye.

Die antwoorde kom terug. Die eerste een is baie jammer, die tweede een skud die nee-kop, maar die derde een, König Coffee, uit Malmesbury, vertel my dat hulle belangstel. Ek gaan nou ‘n baie lang storie kort maak. Christo König, die eienaar van König Coffees, stuur vir my ‘n masjien, bone en alles wat ek benodig vooruit en hy kom ‘n paar dae later self en lei ons op om die heerlikste koffie met sy masjien te maak en aan ons deelnemers te bedien in die kerksaal. Daar ervaar ek toe internasionale voorregte op Vanzylsrus, danksy König Coffees.

Op 9 Mei, DV, bied ons die Geoglief-fees op Vanzylsrus aan en König Coffees het ons nie vergeet nie. Hulle het vir ons die heerlikste “lucky-draw”-pryse, wat omtrent hulle reeks produkte sal wees, gestuur. Ek moet dit in Hotazel by die OK Supermark gaan afhaal. Wie sou nou kon dink dat daar soveel medemenslikheid in hierdie kompeterende koffiekapitaal-arena ook te vinde is.

Daar is nog so baie dinge wat ek oor koffie wil vertel, maar ek dink almal se koffie is nou al koud teen die tyd dat hulle die slotparagraaf lees. Net nog so ‘n ietsie interessants wat ek in China leer ken het. Soos ons hier koeldrank in ‘n glas met ysblokkies bedien, so kan jy daar koue koffie met ys koop, asof dit koeldrank is - met of sonder melk. Geniet jou koffie!





Comments