Die 2027 Askham Kunstenaarswegbreek (Retreat)

Donderdagmiddag, 1 Oktober 2026, het Bridge Co-Creators en kunstevriende die 2de VZR Kunsteweek op 1 Oktober 2026 suksesvol afgesluit met ‘n heerlike konsert in die Vanzylrus Nederduits Gereformeerde Kerk. Toe begin die groot werk nou eers vir mý, die direkteur van Bridge Co-Creators, wat moes sorg dat daar ‘n video van elke aanbieder en afdeling gemaak word en dat die opsommende artikel van die kunsteweek beskikbaar gestel word aan die media.

Hierdie maak van die video’s en die skryf van die artikels neem omtrent so twee weke. Om hierdie proses te vergemaklik besluit ek toe om by my broer en skoonsuster, wat so 9km buite Vanzylsrus op die gasteplaas, Tevrede woon, my intrek te gaan neem, want hulle het sterk internetsein. So begin ek timmer en ek dink die einde sien ek nimmer, maar alles kry darem ‘n punt op ‘n stadium, genadiglik.

Terwyl ek so foto’s redigeer en video’s aanmekaar flans en musiek soek wat kopieregvry is, begin dit te reent op 6 Oktober. My broer staan op en deel ons mee hy nie kan boer nie, dit is te onsmaaklik en dat ons moet klaarmaak, want ons gaan Askham toe. Nie ek, of hy, of my skoonsuster, was al ooit op Askham nie en dit is slegs ‘n 120km ver per “moelike” grondpad. Ons trek aan en ek weet nie wat ek nou eintlik verwag het van dié Askhamgedagte nie, maar daar vertrek ons. Ons ry omtrent so ‘n uur en ‘n half en verkyk ons aan die ryk boere of beleggers wat die aarde rondom Askham soos ‘n oorsese plek laat vertoon. Dit is groot skure, indrukwekkende plaasingange en aanloopbane vir vliegtuie.

Natuurlik was ek bewus van die Museum en die Deli wat nuut op Askham gebou was, omdat Facebook my daarvan vertel het, maar ek dink nie ek was heeltemal gereed vir wat op my kunstenaarshart gewag het nie. Ons kom daar aan en daar voel dit vir my of die hemel vir my oopgaan. Ek verbeel my ek is in die Paris of the Kalahari.
Die Kalahari en ek voer al ‘n lewenslange stryd met mekaar, maar hier op Askham kry ek ietsie wat die Kalahari tot dan, nog nooit vir my gegee het nie: ‘n uitbeelding van kleur, hoop en positiwiteit in die kleine. Ek gewaar ‘n gemeenskappie wat iets besig is om te bou waarvan ek hou en miskien wat ek dalk kon verstaan? Ek is lyk my baie eenvoudig, maar as ‘n plek op amper vyf plekke ordentlike koffie kan bedien in ‘n 50m radius, dan moet daar tog iets reggedoen word.

Ek moet nou eers my perde inhou en tot die punt kom, want niemand wil ekstra leeswerk hê nie. In my opgewonde staat noem ek dit toe sommer op ‘n groep dat ek dink Askham ‘n ideale plek kan wees vir ‘n kunstenaarswegbreek of retreat. My gedagte val op die regte ore en toe kry ons die datum: 22 – 26 Maart 2027. Die retreat sal plaasvind gedurende die Maartskoolvakansie, DV.
Wat wil ons bereik met hierdie retreat? Ons wil vir kunstenaars in alle genres die geleentheid bied om hul batterye te kom herlaai, kreatief te wees en ook om die wonderlike stilte en ervarings wat die Kalahari hul kan bied, te geniet saam met ander. Die Askhamgemeenskap, die Rooi Duin Roete en Bridge Co-Creators gaan kragte saamspan om van die eerste Kalahari Kunstenaars Retreat ‘n onvergeetlike ervaring te maak, as die Here wil en ons lewe. Droom saam met ons en vertel solank vir ander kunstenaars wat ons beoog.

Maandag, 2 November 2026, gaan Bridge Co-Creators, die Askhamgemeenskap en die Rooi Duin roete vergader om te kyk hoe ons die dinge lekker kan maak vir almal. Die platteland is ver, maar dit is 'n fantastiese aarde wat die kunste kan koester. Help ons om geskiedenis te maak en asseblief, versprei ons nuus.





Comments