Die Aasvoëlgeoglief - "Projekbestuurder-perspektief"
- Pieter A. Pienaar

- 5 days ago
- 9 min read
So 'n paar gedagtes deur Pieter Pienaar.
As ‘n mens eerlik met hom of haarself is, sal die wete dat eie begrip beperk is, iewers op ‘n interne kopskerm registreer. Gelukkig is daar die harde werklikheid wat soos welkome kalklippe in die hande kom lê, en die insigbeperkings aanvul deur harde ervaring en ondervinding. Jammer vir hierdie gewigte intrapslag. Miskien moet ek net eers begin by die begin, maar ek gaan dit diggeweef probeer hou, want anders word dit ‘n kortverhaal.

Jy kan my ‘n bekommerde of selfs ‘n gefrustreerde semi-afgetrede kunsonderwyser noem; die afwesigheid van die kunste in die Noord-Kaap bly vir my ‘n kopseer wat my laat klippe kou op vele vlakke – en dit is ‘n self opgelegde passie; my eie skuld. Om iets aan die hartseersaak te probeer te doen, het ek in 2025 gedink dat Vanzylsrus ‘n kunsteweek moet kry; die kunste moes nader kom.
Ek het die sosiale mediakanale tot my beskikking gebruik en ek het baie video’s geplaas en die mense gesmeek om ‘n kunsbesoek aan Vanzylsrus te oorweeg. Een na die ander het ek die kunstenaars, skrywers en digters van die omgewing ontmoet en so het ‘n netwerk van vrolike, opgewekte en produktiewe “stryders” onstaan wat saam met my onder hierdie kunstevlag wou stap.

Nou waar pas die geoglief dan nou in? My kunstenaarsvriend, Jan van der Merwe, die bekende Suid-Afrikaanse installasiekunstenaar, wat ‘n wonderlike gawe het om kunstenaars te verbind, het ons kunsteweek-idee aan die Site_Specific Collective oorgedra. Anni Snyman en haar broer, PC Janse van Rensburg, het my gekontak. Ek vra toe rond en hulle kry vinnig ‘n stukkie grond naby Vanzylsrus, wat aan die hoteleienaars behoort. Nou kon die span landkuns-kunstenaars uiting gee aan hul droom om hul grootse geoglief, ‘n aasvoël te kom te kom pak met 17 000 kalkklippe.

Die skep van die geoglief word die inleiding tot die 2025-kunsteweek. ‘n Week voordat die kunsteweek sou afskop, is die 3,2km-lange ontwerp van die aasvoël geteken deur die ervare ontwerpers en hul vriende. Daar het selfs ‘n paartjie uit Frankryk gekom.

Ek erf toe die rol van geoglief-projekbestuurder wat dinge in orde moes kry voordat die span einde September sou opdaag. Daar moes duisende kalkklippe opgetel word en op die terrein gestort word en ek moes drie groot mangaanklippe iewers by ‘n vriendelike myn kry.
Dit is ook maar goed ‘n mens weet nie altyd wat ‘n taak behels nie, maar ‘n mens leer. Gelukkig was daar Kobus Duvenhage Bouers van Upington, wat baie opgewonde was oor die geoglief en hulle het ‘n lorrie en ‘n bestuurder beskikbaar gestel waarmee ons die klippe kon vervoer. Kobus is ‘n boorling van Vanzylsrus en hy het ook reëlings met die landmeter, YXZ Resources getref, wat die kernpunte van die geoglief moes kom aandui vir die landkunsspan.

‘n Plaaslike boer, Jaap Schreuder, het ook van sy vriende nader getrek wat die taak vergemaklik het en hulle het ook vir sekere befondsingaspekte gesorg. Vroeg in September 2025 het Trollope Mining Mokala Manganese vir ons 3 groot mangaanklippe met hul groot hyskraanlorrie kom aflewer, presies op die plekke wat die landmeters aangedui het, en toe vloei die dankbaarheid uit my hart soos fonteinwater.

As kunsonderwyser het ek vir baie jare landkuns as genre behandel, maar die woord geoglief het ek regtig nooit self gebruik nie. Ek het in my klasse wel vertel van Strijdom van der Merwe, Robert Smithson en dalk het ek ook Andy Goldsworthy aangeraak, maar om self eendag letterlik klippe op te tel, hulle met ‘n kruiwa te stoot en aan so ‘n projek deel te neem, was nou glad nie op my begeerte-lysie nie.

Behalwe al die praktiese implikasies van so ‘n enorme projek, was daar natuurlik ook die kommunikasie- of onderhandelingsaspekte wat ek as ervare onderwyser seker kon behartig, maar dit het maar gelol hier en daar. So begin ek toe onwetend blykbaar die werk van ‘n hele span “bemarkers” doen; my kunsvriende het my op die einde van die eerste lyn, daarvan bewus gemaak. Daar was geen geogliefspan hier naby my waarop ek kon steun, wat beplanning en promosiewerk betref nie.
Elke video en advertensie moes ek self maak en stuur. Die duisende kalkklippe wat vir my en die optellers so stilletjies langs die pad gelê en wag het, het soos ‘n berg voor my verrys. Ek dink ek het in my soeke na rigting en inligting sekere die helfte van die land mal gemaak. Moet asseblief nie dink ek probeer nou vertel dat ek so oulik is nie, wat ek wel wil oordra, is dat die hele gestoei om dinge aan die beweeg te kry, eintlik eienaardig of uiters snaaks was. ‘n Span rondom my sou my dalk net meer verwar het?

Hoe vertel jy nou vir iemand in die Kalahari dat jy besig is om 17 000 kalkklippe op te tel sodat ‘n aasvoël op ‘n vlakte daarmee geteken kan word; dit sal slegs met ‘n hommeltuig gesien kan word – dit klink mos effe dik vir ‘n daalder? Dit is half absurd in ‘n streek waar die kunste heeltemal onsigbaar is. Hier en daar hoor jy steeds, “Maar daar is dan niks om te sien van die pad af nie.” Dis nou seker amper soos daai storie van die keiser sonder klere vir party mense.

Wel, nood leer bid en e-posse en selfone maak dit moontlik om met myngesante en gesiene gemeenskapsleiers te praat. So tussen alles deur raak ek effe benoud, want daar is ‘n behoefte aan befondsing. Ek stuur nederige befondsingversoeke uit, bel en vertel, maar nie veel gebeur nie. My een vriend wat ‘n tandarts is in Engeland het wel vir ons ‘n donasie gestuur. Ek leer toe o.a. dat vir elke 30 e-posse wat jy uistuur jy 1 reaksie kan verwag. Omdat hierdie projek vir my soos die bou van ‘n Egiptiese piramide gevoel het, wou ek almal laat weet; fotograwe, die media, tydskrifte en seker sommer die ganse wêreld. As ek nou terugkyk na alles wat ek probeer het en dit vergelyk met die swak opbrengs, dan besef ek dat ek maar min weet, maar ons het die kunstevlag geswaai. Ek moet hier net gou 'n kantaantekenkie maak: Die Noord-Kaapse koerante het vir ons gereeld wonderlike blootstelling gegee en veral Novus Media het die geoglief breedvoerig gedek. Ons het ook die voorreg gehad om op OFM se webblad te kon verskyn en op golwe ietsie te kon verklap.

Natuurlik het ek talle staatsdepartemente en ander instansies ook gekontak wat dalk aanklank sou vind by die geoglief, maar helaas, daar was geen roering in die rietbos of “staatsbos” nie. Intussen het daar vrae in my eie kop begin onstaan in my poging om te verstaan hoekom ek voel dat ek nie juis veel vordering kon maak om die boodskap effektief oor te dra nie.

Ek troos my toe daaraan dat die term geoglief seker so vreemd moes wees in ‘n land waar doef-doef-musiek en biertente eintlik vir vele die beter of selfs die beste kulturele opsie sou wees. In dieselfde asem moet ek ook byvoeg, dat die geoglief wel heeltemal die kunsteweek begin oorskadu het, maar ek was glad nie bekommerd daaroor nie. Dit het duidelik geword dat die enorme skaal van die projek die mense se verbeeldings aan gegryp het. Dalk was hierdie geoglief vir my en die andere stryders uit die hemel gestuur, sodat ons poging om die harte weer vir die kunste in die platteland te laat klop, bietjie momentum of statuur kon kry. Net die toekoms sal die ware feite en stand van sake kan verklap.

Die geoglief word gepak in September 2025, maar die einde breek nie aan nie. Tim Vinck van die Internasionale Meerkatnavorsingstasie, 25km buite Vanzylsrus, kom neem die hommeltuigfoto’s en dinge lyk nie goed nie. Die ontwerpers is nie tevrede nie, die bestaande lyn moet breër gemaak word. Hulle beoog om dit 1 – 10 Mei 2026 te kom doen. Ek besef nie dadelik wat my weer gaan tref nie en ek gaan hou vakansie by die see na die eerste suksesvolle kunsteweek op Vanzylsrus.

Toe ek weer tot verhaal kom, besef ek dat daar weer 10 000 en meer kalkklippe opgetel sal moet word; dit voel soos ‘n weermagoperasie as jy langs die lorrie stap in die hitte en die klippe een vir een op die bak gooi. Ons besluit dat ons dit in Maart 2026 gaan doen, want die langnaweke in April is net te veel. Die week van 9 tot 13 Maart kry ons weer die lorrie, danksy Kobus Duvenhage Bouers. Jaap Schreuder en Dirk Burger staan my by; die groter klippe op die terrein word ook met ‘n domkraghamer stukkend gebeitel.
Dit is ‘n groot lawaai soos die kompressor die hamers wakker maak en ek besef met elke klip wat gebreek en verskuif word, dat ek heeltemal uit my gemaksone is, maar die hoop in my begin stadig maar seker die ongemak verskuif. Die taak word verrig, die geoglief gaan sy verskyning maak, met of sonder die meelewing van die plaaslike of wyer gemeenskap en dit gaan definitief ‘n doel dien. Daar kom seker ‘n stadium in elke projekbestuurder se woel met ‘n projek dat die behoefte aan aanvaarding en begrip die wyk neem en die begeerte aan klaarmaak die fokuspunt raak. Jy wil net “amen” prewel.

Om die befondsingsprobleem op te los, besluit ons dat ons op Vanzylsrus, 9 Mei, ‘n geoglieffees gaan aanbied. As jy sportief is, kan jy kom stap, draf of fietsry. Die kerkorrel is ook reggemaak vir ‘n orreluitvoering net voor middagete en daar kom ook ‘n feesorkes uit Johannesburg om die geoglief se verskyning te vier, so teen skemer. Ons het gedink dit is ‘n oulike plan, maar toe breek die Iran-oorlog uit en nou wonder ons waar onse ou fesie nou in die bedrukte petroleumprent pas. Sal mense steeds kans sien om vir die ekstra diesel of petrol te betaal om te kom meedoen en iets vir die platteland te doen?
In die tydsverloop van Oktober 2025 tot einde Februarie 2026, wat die warmste maande in die Kalahari is, leer ek baie by my Kalahari-vriende en ander kunste- en toeriste-entoesiaste. Die Red Dune Route se mense wat baie doen om die Kalahari-streek naby die Kgalagadi Oorgrenspark te bemark, vertel my hulle het gedink ons geld het opgeraak om die geoglief te voltooi; hulle was effe verlig toe hul verneem dat geen mens in die somerhitte op daardie vlakte kan werk nie. Ek kom te hore dat ‘n fakulteit, Kreatiewe Ekonomie, by een van ons universiteite sy verskyning gaan maak. Ek besef toe dat ons besig is om die kreatiewe ekonomie van die platteland te stimuleer deur hierdie geoglief-gemeenskapsprojek en toe voel dit vir my dat ek en ons maar kan voortgaan om hierdie goeie stryd te stry.

As boorling van hierdie streek is dit vir my moeilik om te sien hoe hulpeloos en vergete baie mense op die platteland is. Ek beleef dit toe ook daagliks eerstehands soos ons met die dagloners werk. Die Site_Specific Collective-spanleiers het geld gestuur om die dagloners te betaal. Elke oggend het ons 6 werkers gehuur en daar was altyd te veel wat wou werk, want werk is baie skaars in hierdie geweste. ‘n Paar van die dierbare en vriendelike dagloners is aan drank verslaaf en jy weet, soos jy hulle betaal, dat daardie geld dalk nie by koskoop gaan uitkom nie. Daar is dan ook ander dagloners wat jonk en sterk is met sober gewoontes, maar vir ook hulle voorspel die platteland nie ‘n goeie toekoms nie.
Kom ek sluit af. As die geoglief voltooi is, gaan dit op Google Earth as ‘n landmerk geregistreer word. Die plan is om plaaslike toergidse op te lei wat saam met die toeriste om die geoglief gaan stap en so word die toergidse betaal en daar word ook ‘n persentasie aan die aasvoëlbewaring gegee.

Die aasvoëlgeoglief gaan ‘n begrensde area wees, a.g.v. die klipbuitelyn en dit sal ook ‘n unieke een-dag-buitelugskool kan wees. Op hierdie terrein sal daar op die insekte, reptiele, plante, voëls en ander ekosistemiese aspekte gefokus kan word. Skole kan groepe stuur om bv. een nag in ‘n tente-dorpie te kom oornag waar hul oor die sterre ingelig kan word en die volgende dag maak hulle met die natuurelemente van die geoglief kennis. Natuurlik is daar nog baie water wat in die see moet loop voor alles vlot sal verloop, maar wie het nou gedink dat die kunste nie dividende sal kan lewer nie? Bring die kunste terug!




Comments